AgriMP Kongres 2025
AgriMP Kongres 2025 Met die tema, Hier om te Bly, het Agri Mpumalanga op 5 Junie 2025 ’n uiters suksesvolle kongres aangebied wat gekenmerk is deur eerlike gesprekke, strategiese insette en inspirerende leierskap. Die kongres het produsente, rolspelers en besluitnemers vanuit die hele provinsie bymekaar gebring in ’n tyd waar die landbousektor voor groot uitdagings en geleenthede staan. Die kongres is geopen deur Ds Thinus van Staden, wat die toon van die dag gestel het met ’n sterk boodskap oor die belang van eenheid, aanpassing en volgehoue betrokkenheid in landbou. Hy is ook die stigter van die Trauma Netwerk met wie ons ‘n pad stap om boere by te staan. Een van die kernsprekers was Michael Peters, wat ’n direkte en realistiese gesprek gelei het oor die realiteite van die huidige landbousektor. Hy het kwessies soos ekonomiese druk, beleidsonsekerheid en klimaatsverandering aangeraak, maar ook gefokus op die oplossings en geleenthede wat boere tot hul beskikking het. Jaco Minnaar, die president van Agri SA, en Johann Kotzé, uitvoerende hoof van Agri SA het ook waardevolle insette gelewer. Hulle het beide beklemtoon dat georganiseerde landbou steeds ’n kritieke rol speel in die bevordering van voedselveiligheid, grondbesitbeskerming en beleidsbeïnvloeding op nasionale vlak. Lion du Plessis, president van Agri MP, het die dag afgesluit met ’n inspirerende toespraak waarin hy landbouers aangemoedig het om mekaar te ondersteun en in hul strukture betrokke te bly. Hy het verwys na die belangrikheid van streeksorganisasies soos AgriMP om die stem van boere hoorbaar te maak in ’n veranderende Suid-Afrika. ’n Hoogtepunt van die dag was die aankondiging van Hendy-Hein Mathews as Jongboer van die Jaar 2025. Sy toewyding, innovasie en passie vir volhoubare landbou het hom die titel besorg – ’n trotse oomblik vir sy familie en gemeenskap. Die kongres van 2025 het nie net teruggekyk op die afgelope jaar nie, maar het ook ’n duidelike visie geskets vir die toekoms van landbou in Mpumalanga en Suid-Afrika. Ons is hier om te bly…
AgriMP Kongres 2025 Read More »










