Bek-en-Klouseer Konferensie 2026
Op 18 Februarie 2026 is ’n belangrike Bek-en-Klouseer (BKS)-konferensie in Ermelo gehou waar produsente, landbouleiers en veeartsenykundige kundiges byeengekom het om die groeiende bedreiging van die siekte in Mpumalanga te bespreek. Die konferensie, gekoördineer deur Agri Mpumalanga in samewerking met RPO Mpumalanga, RMIS en RuVASA, het die erns van Suid-Afrika se veranderde BKS-status en die noodsaaklikheid van ’n gesamentlike strategie vir inperking en langtermyn beskerming beklemtoon.
Kundiges het bevestig dat BKS ’n staatsbeheerde siekte is wat streng wetgewing vereis, en dat inenting tans die belangrikste instrument is om produksieverliese te beperk. Entstowwe bied beskerming teen die verskillende stamme wat in Suid-Afrika voorkom, en dit is veilig om diere te ent – selfs waar infeksie voorheen voorgekom het. Produsente is ook daarop gewys dat deeglike rekordhouding, streng kwarantynmaatreëls en betroubare data noodsaaklik is om uitbrake effektief te bestuur.
Die konferensie het praktiese riglyne aan produsente verskaf, insluitend onmiddellike aanmelding van vermoedelike gevalle, versterkte biosekuriteit, opleiding van werkers en die beperking van onnodige veebeweging. Die oorhoofse boodskap was duidelik: bly kalm, versterk kommunikasie en biosekuriteit, en berei voor vir voorkomende inenting sodra die entstof beskikbaar word.
Ons moedig almal aan om aan te sluit by Georganiseerde Strukture soos AgriMP, bevestigde inligting word deur hierdie kanale versprei.
Lees meer hier → (skakel na volledige verslag/link to full report)

