Boere, Landbouleiers en Veeartsenykundige Kenners in Ermelo byeen om Bek-en-Klouseerkrisis aan te pak
Op 18 Februarie 2026 was ‘n belangrike Bek-en-Klouseer (BKS)-konferensie by die EHS-ouditorium in Ermelo gehou. Dit was ‘n beduidende gesamentlike inisiatief deur RPO Mpumalanga, RMIS en RuVASA deur AgriMP gekoördineer. Die geleentheid het ongeveer 270 fisiese en virtuele deelnemers gehuisves om die toenemende uitdagings van die BKS-virus in Mpumalanga aan te spreek.
Suid-Afrika se status t.o.v Bek-en-Klou het as gevolg van verspreiding verander van ‘’skoon sones’’ status na ‘n ‘’besmette’’ status. Die konferensie het as ideale platform gedien vir tegniese kundiges en industrie-leiers om ‘n verenigde strategie vir inperking en langtermyn beskerming uiteen te sit.
Die kundige paneel, met verteenwoordigers van die Mpumalanga Departement van Landbou, RMIS, RPO en die private veeartsenykundige sektor, het beklemtoon dat bek-en-klouseer ‘n staatsbeheerde siekte is wat deur streng wetgewing beheer word. Die primêre fokus van die bedryf is tans gefokus op inenting van kuddes om produksieverliese op plase tot die minimum te beperk.
Belangrike insigte wat deur die sprekers gedeel was, sluit in:
- Diere wat die siekte onder lede gehad het het beslis immuniteit teen die spesifieke stam wat die dier onder lede gehad het. Meer as een stam van Bek-en-Klou is teenwoordig in Suid-Afrika. Die entstowwe wat vanuit die buiteland verwag word, sowel as die entstowwe wat in SA vervaardig word, bied immuniteit teen al die stamme wat hier voorkom.
- Dit is veilig om diere wat die siekte onder lede het te ent.
- Alhoewel die entstof beskerming bied teen die siekte kan infeksie steeds plaasvind. Daarom is behoorlike rekordhouding van entings noodsaaklik.
- Wanneer uitbrake voorkom, word die siekte van “buite na binne” bestuur, wat streng kwarantynmaatreëls van alle betrokke partye vereis.
- Dit is onmoontlik dat slegs staatsveeartse en privaat veeartse die nasionale kudde kan inent. Die entstof sal dus onder beheer van die Departement beskikbaar gestel moet word. RuWASA is besig met die proses om privaat veeartse amptelik te bemagtig vir die proses van inenting. Produsente moet daarom voorbereid wees om wel self te kan ent.
- Privaat veeartse word aangemoedig om databasis van kliënte en meegaande veegetalle op datum te kry.
- Die negatiewe ekonomiese impak van die siekte op die bedryf is enorm.
Kritieke Riglyne vir Produsente
Om die bedryf te beskerm, wat sterk afhanklik is van veebeweging, was die volgende riglyne
aangebied:
- Sluit aan by Georganiseerde Strukture, bevestigde inligting word deur hierdie kanale versprei.
- Aanmelding van uitbrake moet onmiddellik gedoen word. Laat of geen aanmelding versnel die verspreiding van die siekte en vergroot die risiko vir vee verliese.
- Data integriteit is van uiterste belang. Dit is belangrik dat ons weet waar die uitbrake is.
- Produsente word versoek om vermeende gevalle via WhatsApp aan te meld na: 073 786 7363 (Let wel: Stuur slegs die GPS-koördinate vanaf die naaste S-pad of sekondêre pad.)
- Algemene gesondheid van kuddes is ‘n prioriteit. Stresvrye diere met goeie voedingstatus toon hoër natuurlike weerstand en laer mortaliteitsyfers.
- Opleiding van werkers t.o.v. die siekte is uiters belangrik.
- Evalueer weidingstelsels en die beweging van vee op die plaas om risikos van verspreiding tot die minimum te beperk.
Die boodskap van die konferensie was duidelik: Moenie paniekerig raak nie. Vestig duidelike kommunikasielyne, verskerp biosekuriteitsmaatreëls en begin voorkomende inenting sodra die entstof beskikbaar word.
