AgriMP Kongres 2026 fokus op leierskap vir die toekoms
Agri Mpumalanga (AgriMP) het op 28 en 29 Mei 2026 hul jaarlikse kongres by Forever Resort Badplaas aangebied onder die tema “Neem die Leiding”. Die kongres het landbouleiers, produsente en rolspelers vanuit die bedryf byeengebring om uitdagings, geleenthede en die toekoms van georganiseerde landbou te bespreek.
Die opening is waargeneem deur ds. Surina van der Berg, wat beklemtoon het dat ware leierskap in afhanklikheid van God uitgeleef word. Sy het deelnemers aangemoedig om daar waar hulle geplaas is leiding te neem, eenheid te bou en verantwoordelikheid te aanvaar ter wille van die volgende geslag. Ware leierskap skep nie verdeeldheid nie. Elke leier moet Bou, Bid & Bevorder.
AgriMP-president, Lion du Plessis, het in sy openingsboodskap daarop gewys dat elke generasie geroep word om leiding te neem. Vorige generasies het hulle verantwoordelikheid opgeneem. Dit is nou ons beurt. Daarom het Lion ook klem gelê daarop dat dit belangrik is om ons daartoe te verbind om ons organisasie, ons plaaslike gemeenskap en ons land in ‘n beter toestand aan te gee vir die volgende geslag. Hy het beklemtoon dat georganiseerde landbou ‘n toenemend belangrike rol speel in gemeenskappe waar produsente self verantwoordelikheid moet aanvaar, terwyl die owerheid steeds aanspreeklik gehou moet word vir dienslewering.
Dr. M.C. Dagada, waarnemende Hoof van die Mpumalanga Departement van Landbou, het die departement se verbintenis tot samewerking met die kommersiële landbousektor bevestig. Hulle begryp ook dat volhoubaarheid op plaasvlak tans op risiko is teen die agtergrond van onlangse uiterste stygings van insetkostes. Hy het onder andere verwys na die gesamentlike stryd teen bek-en-klouseer, die belang van beter landelike padinfrastruktuur en die waarde van AgriMP as ‘n strategiese vennoot.
AgriSA-president, Willem de Chavonnes Vrugt, het die kongres uitgedaag om uitdagings met nuwe denke te benader en beklemtoon dat sterk grondvlakstrukture die fondament van georganiseerde landbou bly. Hoe beter alle leiers die mandate verstaan hoe beter is AgriSA se voetspoor. Hy het ook die belang van betroubare landboudata uitgelig om ingeligte besluitneming te ondersteun. Daar is baie verdraaide inligting wat versprei word, besluitnemers moet dus ingelig word deur die regte kanale.
Die kongres is afgesluit deur AgriSA se uitvoerende hoof, Johann Kotzé, wat deelnemers aangemoedig het om met moed, karakter en pragmatiese leierskap hul eie wedloop te hardloop. Sy boodskap was duidelik: ware leiers fokus nie op perfekte omstandighede nie, maar maak die beste van die seisoen waarin hulle hulself bevind.
Die AgriMP Kongres 2026 het weereens bevestig dat die toekoms van landbou gebou word deur geloof, samewerking en leiers wat bereid is om verantwoordelikheid te aanvaar en ‘n verskil in hul gemeenskappe te maak.

