
Kan georganiseerde landbou verdeeldheid nog enigsins bekostig? deur Lion du Plessis, President AgriMP
Daar is tye in die geskiedenis waar die grootste gevaar nie van buite kom nie, maar uit ons eie onvermoë om saam te staan.
Ek glo Suid-Afrikaanse landbou het so ‘n tyd bereik.
Die vraag wat ons onsself eerlik moet afvra, is nie watter organisasie die beste of die sterkste is nie. Die vraag is eerder of ons, as landbouers, nog die luuksheid van verdeeldheid kan bekostig.
Ons praat dikwels van “die boere” asof dit ‘n groot groep mense is. Die werklikheid lyk anders. Kommersiële boere in Suid-Afrika is vandag ‘n klein minderheid. Tog dra ons ‘n enorme verantwoordelikheid. Ons produseer voedsel, skep werk, hou landelike ekonomieë aan die gang en lewer ‘n betekenisvolle bydrae tot die land se welvaart. Numeries is ons min, maar die verantwoordelikheid wat op ons rus, is enorm.
Juis daarom behoort ons invloed groter te wees as die som van ons verskillende organisasies.
Georganiseerde landbou het oor baie dekades ‘n onskatbare rol gespeel om boere se belange te beskerm en te bevorder. Verskillende demokratiese lede-organisasies het elk hul eie geskiedenis, kultuur, ervaring en sterk punte ontwikkel. Hierdie verskeidenheid is nie noodwendig ‘n probleem nie. Trouens, dit kan ‘n bate wees wanneer dit met wedersydse respek en ‘n gemeenskaplike doel bestuur word.
Die uitdaging ontstaan wanneer ons energie meer aan mekaar bestee as aan die uitdagings waarvoor produsente daagliks te staan kom.
Vandag word Suid-Afrikaanse landbou gekonfronteer met misdaad, swak infrastruktuur, wateruitdagings, dieresiektes, beleidsonsekerheid, toenemende regulatoriese druk, stygende insetkoste en marktoegang. Nie een van hierdie uitdagings onderskei tussen organisasies nie. Hulle raak elke landbou produsent groot of klein.
Daarom behoort die oplossing ook groter te wees as enige enkele organisasie.

Dit beteken nie dat organisasies hul identiteit moet verloor nie. Dit beteken ook nie dat almal in een struktuur moet opgaan nie. Demokratiese organisasies het elkeen ‘n belangrike rol om te speel en die verskeidenheid van denke binne georganiseerde landbou is gesond.
Maar waar ons gemeenskaplike belange op die spel is, behoort samewerking die norm eerder as die uitsondering te wees.
Leierskap behoort nie gemeet te word aan hoeveel erkenning ‘n organisasie ontvang nie. Dit behoort gemeet te word aan hoeveel waarde dit vir landbou skep.
Wanneer veiligheid aandag verg, behoort almal wat daartoe kan bydra saam te werk.
Wanneer beleid of wetgewing bespreek word, behoort die beste kundigheid beskikbaar gestel te word.
Wanneer infrastruktuur, water, grondhervorming of marktoegang op die tafel is, behoort die vraag nooit te wees wie die leiding neem nie, maar hoe ons die beste uitkoms vir landbou bereik.
Die saak behoort altyd belangriker te wees as die banier.
Op grondvlak sien ons dikwels hoe boere oor organisatoriese grense heen uitstekend saamwerk. Wanneer ‘n buurman hulp nodig het, wanneer misdaad toeslaan of wanneer ‘n gemeenskap saam teen ‘n plaaslike uitdaging moet optree, vra niemand eerste aan watter organisasie iemand behoort nie. Dan is ons eenvoudig ‘n gemeenskap wat saam verantwoordelikheid aanvaar.
Hierdie gesindheid behoort die rigtingwyser vir georganiseerde landbou te wees.
Die geskiedenis van ons verskillende organisasies verdien respek. Elke organisasie het sy eie pad gestap en sy eie bydrae gelewer. Niemand ontken dat daar historiese redes was waarom verskillende paaie gevolg is nie.
Maar die vraag is of daardie geskiedenis steeds die maatstaf moet wees waarvolgens ons vandag se uitdagings benader.
Die nuwe geslag landbouer dra nie noodwendig die bagasie van vorige geslagte saam nie. Hulle leef in ‘n wêreld waar misdaad, ekonomiese druk, beleidsveranderinge, klimaatsuitdagings en stygende produksiekoste hul daaglikse werklikheid is. Hulle vra nie wie dertig jaar gelede reg of verkeerd was nie.
Hulle vra of georganiseerde landbou vandag relevant is.
Hulle vra of dit ‘n verskil maak.
En hulle vra of dit die moeite werd is om betrokke te raak.
Hier lê waarskynlik een van ons grootste uitdagings.
Nie eens alle landbou produsente in Suid-Afrika is deel van georganiseerde landbou nie. Veral onder jong boere sien ons toenemende onbetrokkenheid. Sommige twyfel of hul stem werklik saak maak. Ander voel dat verdeeldheid hulle vervreem eerder as aantrek.
Dit behoort ons almal te bekommer.
Georganiseerde landbou se grootste bate was nog altyd sy lede. Hoe groter ons lidmaatskap, hoe sterker ons mandaat. Hoe sterker ons mandaat, hoe groter ons invloed. En hoe groter ons invloed, hoe beter kan ons die belange van elke boer beskerm.
Ek glo opreg dat groter samewerking tussen organisasies ook meer boere sal aanmoedig om deel te word van georganiseerde landbou. Mense sluit makliker aan by iets wat hoop en eenheid uitstraal as by iets wat verdeeldheid weerspieël.
Dit is egter ook belangrik om te onderskei tussen georganiseerde landbou en ander rolspelers in die bedryf.
Georganiseerde landbou berus op demokratiese lidmaatskap. Lede verkies hul leiers, bepaal die rigting van die organisasie en hou daardie leiers verantwoordbaar. Hierdie beginsels gee aan demokratiese organisasies hul legitimiteit om namens hul lede op te tree.
Daar is baie organisasies wat waardevolle werk in die landboubedryf verrig. Hulle lewer dikwels belangrike bydraes en vervul ‘n betekenisvolle rol. Maar wanneer ons oor georganiseerde landbou praat, verwys ons na organisasies wat hul mandaat direk van hul lede ontvang en voortdurend aan daardie lede verantwoordbaar bly.
Hierdie verantwoordbaarheid bring ‘n besondere verantwoordelikheid mee.
Daar rus ‘n enorme verantwoordelikheid op elke verkose landbouleier.
Hierdie posisies is nie eerbewyse of persoonlike prestasies nie. Dit is ‘n roeping tot diens.
Agter elke leiersrol lê ure se vergaderings, moeilike besluite, lang reise, opofferings van gesinstyd, jou eie besigheid en dikwels die bereidheid om kritiek te verduur sonder enige persoonlike voordeel. Dit is, in baie opsigte, ‘n ondankbare taak.
Juis daarom behoort elke leier hom- of haarself gereeld af te vra:
Dien my optrede die saak van landbou?
Of dien dit my eie belang?
Ons is nie verkies om individue te bevorder, organisasies teen mekaar af te speel of persoonlike agendas na te jaag nie.
Ons is verkies om die mense wat ons vertrou het met hul stemme, getrou te dien.
Ware leierskap vra nederigheid.
Dit vra die bereidheid om soms krediet af te staan sodat die saak kan wen.
Dit vra die wysheid om te besef dat geen organisasie alleen al die antwoorde het nie.
Maar hierdie verantwoordelikheid rus nie net op verkose leiers nie.
Dit rus op elke produsent in landbou.
Georganiseerde landbou kan slegs so sterk wees soos die mense wat bereid is om hul tyd, kundigheid en ondersteuning daarin te belê, nie vir hom of haar self nie, maar vir die mense om jou.
As ons wil hê ons kinders en kleinkinders moet eendag ook die voorreg hê om te boer, kan ons nie verwag dat ‘n klein groepie mense namens almal die stryd moet voer nie.
Die tyd van rugryers is verby.
Elke boer het ‘n verantwoordelikheid om betrokke te raak, sy of haar stem te laat hoor en saam te bou aan organisasies wat die bedryf beskerm en bevorder.
Uiteindelik gaan hierdie gesprek nie oor individue nie.
Dit gaan nie oor titels nie.
Dit gaan nie oor organisasies nie.
Dit gaan oor die volhoubaarheid van Suid-Afrikaanse landbou.
Ek glo steeds in georganiseerde landbou.
Ek glo steeds dat demokratiese, verantwoordbare organisasies die beste manier is waarop boere hul eie toekoms kan help vorm.
Maar ek glo ook dat die volgende hoofstuk van georganiseerde landbou minder oor geskiedenis en meer oor gesamentlike verantwoordelikheid behoort te gaan.
Ons hoef nie oor alles saam te stem om oor die groot sake saam te werk nie.
Ons hoef nie ons identiteit prys te gee om mekaar te respekteer nie.
Ons hoef nie dieselfde banier te dra om dieselfde saak te dien nie.
Wanneer ons bereid is om ons eie belange opsy te skuif ter wille van die groter doel, wanneer leiers met nederigheid dien en lede met oortuiging betrokke raak, bou ons nie net sterker organisasies nie.
Ons bou ‘n sterker landbou sektor in Suid Afrika.
Uiteindelik gaan die geskiedenis ons nie vra aan watter organisasie ons behoort het nie.
Dit gaan vra of ons die wysheid gehad het om die saak bo onsself te stel.
Of ons bereid was om saam te werk wanneer dit die meeste saak gemaak het.
Of ons genoeg omgegee het om vir die volgende geslag méér na te laat as net goeie argumente.
Want die saak is groter as enige mens.
Groter as enige organisasie.
Groter as enige geskiedkundige verdeeldheid. Die toekoms van Suid-Afrikaanse landbou sal nie deur enkelinge verseker word nie, maar deur elke produsent wat kies om sáám daarvoor te veg.
Kliek hier vir die artikel op Landbou Weekblad


