Privaat eiendom is die hoeksteen van landbouvolhoubaarheid envoedselsekerheid
AgriSA is teleurgesteld oor die ondertekening van die Onteieningswetsontwerp op 23 Januarie 2025 deur president Cyril Ramaphosa. Die wetsontwerp fasiliteer die onteiening van grond met nul vergoeding onder bepaalde voorwaardes in die openbare belang.
“Die ondertekening van die Onteieningswetsontwerp hou ‘n risiko in vir private eiendomsreg wat die primêre basis is waarop Suid-Afrikaanse landbou gestruktureer is. Gevolglik hou die wetsontwerp ‘n risiko in vir andbouvolhoubaarheid en voedselsekerheid. Daarom is AgriSA daartoe verbind om eiendomswaardes en -regte te verdedig en sal alle nodige hulpbronne in oorleg met regskundiges gebruik om hierdie beginsels te handhaaf,” sê Johann Kotzé, uitvoerende hoof van AgriSA.
AgriSA het van 2013 tot 2020 aktief aan die NEDLAC en parlementêre prosesse deelgeneem en bygedra tot die 2016 Onteieningswetsontwerp wat die basis vir die onlangs ondertekende wetgewing gevorm het. AgriSA het op 29 April 2024 ‘n brief aan die President gerig waarin AgriSA hom versoek het om te oorweeg om sy grondwetlike bevoegdhede kragtens artikel 84(2)(b) en (c) uit te oefen. AgriSA het versoek dat die president óf die Onteieningswetsontwerp na die Nasionale Vergadering terugverwys vir heroorweging óf die Konstitusionele Hof raadpleeg vir ‘n beslissing oor die grondwetlikheid van die wetsontwerp voordat dit onderteken word.
AgriSA het in sy brief die opdrag van ‘n onafhanklike ondersoek na die makro-ekonomiese impakbepaling van ‘n beleid van grondonteiening sonder vergoeding in Suid-Afrika deur GOPA Group South Africa (Edms) Bpk beklemtoon.
“Hierdie assessering het AgriSA se jarelange oortuiging herhaal dat die bevordering van kapitaalvorming met privaat eiendomsreg verbind is en gevolglik ‘n deurslaggewende voorvereiste vir ekonomiese ontwikkeling, werkskepping en groei is,” sê Kotzé.
“AgriSA ondersteun die behoefte aan transformasie en grondhervorming in die landbousektor, maar beklemtoon dat dit nie ten koste van die ekonomie en beleggersvertroue moet kom nie,” het Kotzé bygevoeg.
Die organisasie bly toegewyd aan die beskerming van private eiendomsreg en die bevordering van die groei en stabiliteit van Suid-Afrika se landbousektor, terwyl voedselsekerheid vir almal verseker word.
Media navrae
Johann Kotzé, AgriSA se hoof uitvoerende beampte (HUB).
jfk@agrisa.org.za