AgriMP verwelkom appèlhof uitspraak insake weidingsregte

Die MoladoraTrust v Mereki en Ander saak het gehandel oor weidingsreg, al dan nie, ingevolge die Wet op die Uitbreiding van Sekerheid van Verblyfreg 62 van 1997 (ESTA), op die eiendom waarop verblyfreg gevestig is.

Aangesien die oorspronklike uitspraak verreikende gevolge vir ons lede ingehou het was AgriMP dus deurgaans ten gunste daarvan om die appèl te ondersteun.

Op 3 April 2024 het die Hoogste Hof van Appèl uitspraak gelewer in die Moladora Trust v Mereki en ander-saak. Die appèl is deur die hof gehandhaaf. Die plaasbewoners is beveel om onmiddellik al hul vee van die applikant se plaas te verwyder. Die Appèlhof het sy bevindinge gegrond op die Adendorff Boerdery v Shabalala en ander [2017] ZASCA 37 para 28; Loskop Landgoed Boerdery (Pty) en ander v Petrus Moeleso en ander [2022] ZASCA 53 para 14, waar dit bepaal het dat die reg van ‘n okkupeerder om vee op ‘n ander persoon se plaas of grond aan te hou of te bewei, nie ‘n reg is wat uit ESTA spruit nie, maar wel ‘n persoonlike reg wat spruit uit toestemming tussen die okkupeerder en die grondeienaar of persoon in beheer.

Die okkupeerders is verder verbied om, sonder vooraf toestemming van die applikant, vee op die plaas aan te hou. Die hof het elke party beveel om hul eie regskoste te betaal.

Die gunstige uitkoms van hierdie saak word deur AgriMP verwelkom. Hierdie uitspraak behoort die verkeerde interpretasie en toepassing van die ESTA wet te voorkom of ten minste te beperk.
Lede word aangemoedig om geldige ooreenkomste met plaasbewoners, wie oor verblyfreg gegrond op ESTA wetgewing beskik, in plek te stel sodat onnodige toekomstige regskoste vermy kan word.

Vriendelike groete,
Robert Davel
Uitvoerende Bestuurder
Agri MP